Getuienis deur my aksies

Laai af in pdf: bybelles iii – getuienis deur my aksies

 

Lees die volgende vers uit Markus 1:

1:16 En terwyl Hy langs die see van Galiléa loop, sien Hy Simon en Andréas, sy broer, besig om ‘n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers.
1:17 En Jesus sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word.
1:18 En dadelik het hulle hul nette laat staan en Hom gevolg.
1:19 En toe Hy daarvandaan ‘n bietjie verder gaan, sien Hy Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, wat besig was om die nette in die skuit heel te maak.
1:20 En dadelik het Hy hulle geroep, en hulle het hul vader Sebedéüs met die gehuurde mense in die skuit laat staan en Hom gevolg. 

Praatjie:

Ons moet ook vissers van mense wees, want hoe gelukkig is ons dat ons Jesus in ons lewe het? Ons moet daardie geluk met ander deel en so vir die Here volgelinge wen. Ons hoef nie noodwendig altyd te praat van Jesus om ander te oorreed dat hulle Hom moet volg nie. As ons onself gedra soos Christene kan die boodskap soveel duideliker deurkom. Hoe gedra ‘n kind van God homself? Hy is verdraagsaam teenoor ander mense en behandel mense EN diere in liefde en met respek. Hy verbly homself in ander se geluk. ‘n Christen kla nie heeldag oor sy lot nie, want ‘n Christen weet dat God hom in Sy hande dra. Ook praat ‘n Christen nie sleg van ander nie.

Vra vir klas vir nog voorbeelde.

 

Gebed:

Liewe Here,

Dankie dat ek so gelukkig is om U te mag ken. Help my om ‘n lewe te lei wat spreek van my liefde vir U. Help my mense te leer van U deur my dade en wat uit my mond uitkom.

Amen

 

Aktiwiteit

 

Wat het jy nodig:

1¼ x wit papierborde per leerling

Rol kombuisfoelie

Verskillende kleure tissuepapier of iets dergeliks

(om geld te spaar kan ou tydskrifte net so goed wees)

1 x Plastiek ogies per leerling

(om geld te spaar kan ogies met karton gemaak word of selfs net opgeteken word)

Kleurpotlode of filtpenne

Gom

Skêr

R2 muntstuk of maak karton patrone vir elke leerling van dieselfde grootte

Metode.

Vooraf: Sny ‘n paar papierborde in kwarte, genoeg dat elke leerling een kwart kan hê.

In klastyd: Knip genoeg skubbe vir ‘n vis met gekleurde tissuepapier en foelie. Begin dit laag op laag plak soos skibbe oor die papierbord.

Kleur ¼ papierbord in met filtpenne of kleurpotlode.

Plak stert vas aan lyf asook ‘n ogie in gepaste plek.

(Hierdie projek kan gebruik word om klas te versier)

Vis

Geduld

Laai af in .pdf – Geduld

 

Lees die volgende vers uit Jakobus 5:

5:7 Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het.

5:8 Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby.

 

Praatjie:

Ons kan nie wag dat die naweek of vakansie moet kom nie, pouse kan nie gou genoeg wees nie en ook nie huistoegaantyd nie.   Ons is ongeduldig. Veral as daar goed is om te doen wat ons nie regtig van hou nie. Alles het sy tyd en ons moet wag vir die goed wat ons wil hê.

Ons is ook nie geduldig met ons medemens nie. Ons raak boos en gefrustreerd as ons ouers stadig werk op die rekenaar en nie gou genoeg maak nie. Ons raak ongeskik as ons oumas en oupas stadig voor ons loop. As jou maatjie ‘n beurt het op die rekenaarspeletjie kan ons nie wag dat hulle moet verloor sodat ons weer ‘n kans kan kry nie.

Ongeduld maak ons ongelukkig in die momente of dae wat ons wag vir beter dinge en situasies. Mens moet jouself in die moment geniet en die lekker vind terwyl jy wag, dan sal jy sien hou gou die tyd vlieg.

Ons wag vir Jesus om ons almal weer te kom haal, kom ons wees geduldig met mekaar en kyk hoe heerlik is dit om Jesus in liefde tegemoet te gaan.

Gebed:

Liewe Here,

Dankie dat ek weet dat U altyd geduldig is met my, al maak ek baie foute. Dankie dat U my daarvoor vergewe. Leer my asseblief om meer geduldig te wees met my medemens want ek weet dit sal die wereld ‘n beter plek maak.

Amen

 

 

Aktiwiteit

 

Wat het jy nodig:

1 klokkie

20 pakkies lekkers (dit sal genoeg wees vir 10 kinders)

2 rolle kombuis kleefplastiek

2 dobbelstene

1 vlak koekpan of iets dergeliks

Metode.

Vooraf: Begin deur een pakkie lekkers en die klokkie toe te rol met die kleefplastiek. Rol ‘n paar lae met die kleefplastiek en dan weer ‘n pakkie lekkers. Totdat dit ‘n lekker bal vorm. (Om die bal effe groter te maak, draai pakkie lekkers toe in koerantpapier/geskenpapier)

In klastyd: Groep kinders sit in ‘n sirkel (trek lootjies vir wie die bal begin oopmaak.) Die persoon aan die linker kant van die bal moet begin die dobblestene gooi in die koekpan. Sodra hy ‘n dubbel kry kan hy die bal begin oopmaak hou so aan totdat die bal heeltemal verwoes is en almal lekkers het. Elke pakkie lekkers wat verlos word terwyl jy die bal oopmaak is dan joune. Die klokkie word al hoe duideliker hoe kleiner die bal raak.

Dinge kan jolig raak, so maak seker nie ander lesse word gesteur nie. Jy kan musiek ook speel tydens die spel wat dinge net meer opwindend maak. Onthou om die kinders te herinner van jul les oor geduld as hulle gefrustreerd raak met mekaar of met die dobblestene!