Geduld

Laai af in .pdf – Geduld

 

Lees die volgende vers uit Jakobus 5:

5:7 Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het.

5:8 Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby.

 

Praatjie:

Ons kan nie wag dat die naweek of vakansie moet kom nie, pouse kan nie gou genoeg wees nie en ook nie huistoegaantyd nie.   Ons is ongeduldig. Veral as daar goed is om te doen wat ons nie regtig van hou nie. Alles het sy tyd en ons moet wag vir die goed wat ons wil hê.

Ons is ook nie geduldig met ons medemens nie. Ons raak boos en gefrustreerd as ons ouers stadig werk op die rekenaar en nie gou genoeg maak nie. Ons raak ongeskik as ons oumas en oupas stadig voor ons loop. As jou maatjie ‘n beurt het op die rekenaarspeletjie kan ons nie wag dat hulle moet verloor sodat ons weer ‘n kans kan kry nie.

Ongeduld maak ons ongelukkig in die momente of dae wat ons wag vir beter dinge en situasies. Mens moet jouself in die moment geniet en die lekker vind terwyl jy wag, dan sal jy sien hou gou die tyd vlieg.

Ons wag vir Jesus om ons almal weer te kom haal, kom ons wees geduldig met mekaar en kyk hoe heerlik is dit om Jesus in liefde tegemoet te gaan.

Gebed:

Liewe Here,

Dankie dat ek weet dat U altyd geduldig is met my, al maak ek baie foute. Dankie dat U my daarvoor vergewe. Leer my asseblief om meer geduldig te wees met my medemens want ek weet dit sal die wereld ‘n beter plek maak.

Amen

 

 

Aktiwiteit

 

Wat het jy nodig:

1 klokkie

20 pakkies lekkers (dit sal genoeg wees vir 10 kinders)

2 rolle kombuis kleefplastiek

2 dobbelstene

1 vlak koekpan of iets dergeliks

Metode.

Vooraf: Begin deur een pakkie lekkers en die klokkie toe te rol met die kleefplastiek. Rol ‘n paar lae met die kleefplastiek en dan weer ‘n pakkie lekkers. Totdat dit ‘n lekker bal vorm. (Om die bal effe groter te maak, draai pakkie lekkers toe in koerantpapier/geskenpapier)

In klastyd: Groep kinders sit in ‘n sirkel (trek lootjies vir wie die bal begin oopmaak.) Die persoon aan die linker kant van die bal moet begin die dobblestene gooi in die koekpan. Sodra hy ‘n dubbel kry kan hy die bal begin oopmaak hou so aan totdat die bal heeltemal verwoes is en almal lekkers het. Elke pakkie lekkers wat verlos word terwyl jy die bal oopmaak is dan joune. Die klokkie word al hoe duideliker hoe kleiner die bal raak.

Dinge kan jolig raak, so maak seker nie ander lesse word gesteur nie. Jy kan musiek ook speel tydens die spel wat dinge net meer opwindend maak. Onthou om die kinders te herinner van jul les oor geduld as hulle gefrustreerd raak met mekaar of met die dobblestene!

Twyfel

laai af in pdf: bybelles i – Twyfel

Lees die volgende vers uit Mattheus 14:

14:22 En Jesus het dadelik sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en voor Hom uit te vaar na die oorkant, terwyl Hy die skare wegstuur.
14:23 En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen.
14:24 En die skuit was al in die middel van die see, geteister deur die golwe; want die wind was teen hulle.
14:25 Maar in die vierde nagwaak het Jesus na hulle gekom, al wandelende op die see.
14:26 En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is ‘n spook! En hulle het geskreeu van vrees.
14:27 Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie.
14:28 En Petrus antwoord Hom en sê: Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.
14:29 En Hy sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na Jesus te gaan.
14:30 Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my!
14:31 En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?
14:32 Daarop klim hulle in die skuit, en die wind het gaan lê.

Praatjie:

Ons twyfel gereeld in God en vergeet hoe Almagtig Hy werklik is. Bekommernis is ook twyfel. As jy vir die Here gebid het dat hy jou more moet help met ‘n toets by die skool (natuurlik as jy hard gestudeer het) of ‘n wedstryd (nadat jy hard gehoefen het) en jy bekommer daaroor, twyfel jy in God. God hoor jou en jy moet Hom vertrou dat Hy die beste vir jou wil hê en jou nooit sal laat val sonder goeie rede nie.

Gebed:

Liewe Here,

Dankie dat ek weet dat U altyd na my luister. Dankie dat ek altyd op U kan vertrou. Vergewe my dat ek soms twyfel en vergeet dat ek alles in U hande mag laat. Help my asseblief om nie weer te twyfel nie.

Amen

 

 

 

 

Aktiwiteit

Wat het jy nodig:

Wit papier/ karton

Kopspelde

Potlode met uitveers aan die end of strooitjies

Kleurpotlode of filtpenne

Washi kleefband *

Klein draadknipper

Skere

Liniaal

Potlood

 

Vooraf: Sny ‘n 16cm X 16cm vierkant vir elke kind.

Tydens klastyd: Laat kinders vir die eerste deel van die les die vierkant aan beide kante versier met die medium van hul keuse. Verkieslik met ‘n tema wat gepas is vir die les.

*Versier potlood met washi kleefband deur dit al om die potlood te draai (hierdie is meer vir ouer kinders)

Trek 2 lyne diagonaal van teenoorstaande hoeke van die vierkant.

Knip versigtig van een hoek tot waar twee lyne kruis in die middel van die versierde vierkant(maar nie dwardeur nie, los om en by 5 mm aan altwee kante) Doen dit van al die hoeke.

Vou dan die losgeknipte teenoorstaande hoeke na die middel ( onthou nie platvou nie, net sodat al die punte bymekaar is).

Steek dan die spelt deur al die punte en dan deur die uitveer van die potlood / strooitjies. (Maar nie dwarsdeur nie sodat dit ‘n as vorm.

Buig die punt van die speld effe op en knip skerp punt af met draadknippers. Sorg dan dat die speld plat teen die potlood is deur dit met die punt van die draadknippers te knyp.

Die woerwaaiertjie is hul te herinner dat God die winde gestil het toe Petrus begin twyfel het.

Nou kan kinders buite in die wind met hierdie woerwaaiertjie speel wyl hul vir hul ouers wag.

 

*optioneel

fan_1

Dankbaarheid

Laai af in PDF formaat

Hoe kan ons altyd dankbaar bly? Deur ‘n positiewe houding en denke.

Teks verse:

  • Ef.5:20 Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.
  • Ps. 106:1 Prys die Here! Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
  • Kol. 3:17 En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

 

Aktiwiteit 1:

 Noem 1 ding waaroor jy wil kla en kry dan ‘n positiewe manier om daarna te kyk:

Byvoorbeeld:

Stelling: Ek hou nie van vroeg opstaan op ‘n Sondag nie

Positiewe: maar dan kan ek my vriende by die kerk sien

 

Stelling: __________________________________________________________

 

___________________________________________________________________

 

Positiewe: __________________________________________________________

 

___________________________________________________________________

 

As jy sukkel om die stelling positief te maak, vra iemand in die klas om jou te help.

 

Aktiwiteit 2:

Tel hoeveel letters is in die woord DANKBAAR, en skryf dan dieselfde aantal dinge neer waarvoor jy dankbaar kan wees:

 

Aktiwiteit 3:

Die vere maak die voël:

Gebruik die buitelyne van jou hande om ‘n “Dankbaarheids Voël” te maak. Skryf dan iets op elke stert veer waarvoor jy dankbaar is

 

Voel_stappe

Verjaarsdag Partytjie vir Jesus

Laai af in pdf: Jaarafsluiting idees

Kersfees en jaarafsluiting idee:  Verjaarsdag partytjie vir Jesus

In plaas van die tradisionele “Kersspel” kan ‘n verjaarsdag tema gebruik word. Al weet ons Jesus is nie gebore op die 25 Desember nie, vier ons nog steeds sy verjaarsdag op hierdie dag.

Waar kom die gebruik van geskenke vandaan? Die wyse manne het geskenke Betlehem toe gebring vir Jesus. Ons moet onthou dat Kersfees nie gaan oor die geskenke wat ons ontvang nie, maar dat ons Jesus as geskenk gekry het by God.

 

Liedjies wat gebruik kan word:

  • Jesus Verjaar

(Op wysie van “Lekker verjaar ou maat, lekker verjaar”)

Dit is weer

Ke-ersfees

Jesus verjaar

Dit is weer

Ke-ersfees

Jesus verjaar

Jesus is lief vir ons

Jesus is lief vir ons

Dit is weer

Ke-ersfees

Jesus verjaar

Dit is weer

Ke-ersfees

Jesus verjaar

 

Handbewegings:

Dit is weer Kersfees, Jesus verjaar

Arms bo kop, maak ‘n ster wat skyn met hande (maak ‘n vuis en skiet dan vingers oop en toe) en beweeg arms af tot by die sye in ‘n boog.

Jesus is lief vir ons

(Je) Steek linker arm op na bo, (sus) steek regter arm op na bo

(Is lief vir ons) maak ‘n kruis met die arms oor die bors – vir liefde

 

  •  Prys die Here Vader

(Op wysie van wielie-walie)

Prys die Here Vader

Staan nou almal nader

Jes-us

het gekom

Hy is onse Redder

 

  • Heilige nag, stille nag

 

Aktiwiteite

  • As daar ‘n verjaarsdag koek is – laat elke kind ‘n kersie aansteek (of in die koek druk en dat die juffrou die kersies aansteek)
  • Ballonne – Blaas ballonne op, elkeen met ‘n teksgedeelte oor die geboorte van Christus binne in. Laat kinders die ballonne bars en dan die teks binne die ballon lees (in die regte volgorde). Gebruik Lukas 1
  • Kaartjies – Laat elkeen ‘n verjaarsdag kaartjie maak vir Jesus

Medemens

 

Laai af in pdf: Medemens

Teks

Romeine 13:8

Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.

 

Markus 12:31

Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

 

Bespreking

  1. Wie is almal jou medemens of naaste?
  2. Hoekom moet ons lief wees vir ons medemens?
  3. Wat beteken dit om vir iemand lief te wees? (Lees Kor. 13)
  4. Is jou medemens altyd iemand van wie jy hou?

 

Aktiwiteit

  1. Vou ‘n A4 papier in 4 ewe groot lengtes soos ‘n konsertina
  2. Sny die papier in die helfte, lengte gewys
  3. Teken ‘n mannetjie se buitelyn op die eerste blok, maak seker sy arms gaan tot teen die kante
  4. Teken ‘n vroutjie se buitelyn op die eerste blok van die tweede helfte, maak seker haar arms gaan tot teen die kante
  5. Terwyl die papier blok gevou is, sny die buitelyne van die mannetjie en vroutjie op die eerste blok
  6. Vou die blokke nou oop
  7. Die figure kan nou versier word

Jona hardloop weg vir God

Laai af in pdf: Jona hardloop weg vir God

Teks: Jona 1 & 2

God gee vir Jona ‘n opdrag om na Nineve toe te gaan om met die mense daar te praat. Jona wil nie gaan nie en probeer om eerder weg te hardloop vir God.

Bespreking:

  • Wat het gebeur toe Jona na Tarsis toe vlug op ‘n skip?
  • Kan ons vir God wegkruip? (Heb. 4:13)
  • Kan ons enigiets vir God wegsteek?

Onthou: God wil eerder hê ons moet iets bely en vergifnis vra as om dit te probeer wegsteek.

 

 

Josua en die val van Jerigo

Laai af in pdf: Josua en die mure van Jerigo

Teks: Josua 6

 Gehoorsaamheid aan God het die stryd van Jerigo gewen

 

Bespreking

Josua en die Israeliete het nie bomme en hamers gebruik om die mure van Jerigo af te breek nie, maar gebed en lofprysing

Happie-Aktiwiteit

Bestanddele:

  • 1 pakkie “Wafers”
  • 1 pakkie Smarties
  • 200ml Versiersuiker (klaar aangemaak)
  • ‘n Skinkbord om die muur op te pak

 

Voor die klas begin:

Bo-op die waspapier (of ‘n skinkbord) pak ‘n vierkantige muur met die wafers, “messel” die koekies vas met versiersuiker en plak die smarties op die versiersuiker vas. Sit die muur neer waar almal dit kan sien as hulle in die klas inkom.

Afhangende van hoeveel kinders in die klas is kan hulle self die muur bou

Na die les behandel is, sit die skinkbord in die middel van die klas neer. Deel die kinders op in “gewapende manskappe”, “priesters” en “agterhoede”. Laat hulle in hierdie volgorde sewe keer om die muur loop in doodse stilte. Hulle moet na die sewende keer almal skree en kan dan die muur eet.

 

Benodighede:

Stap 1: Pak die muur

Stap 2 Messel met die versiersuiker

Stap 3 Versier met Smarties

Finale Produk (gebou in die klas)

Dawid – Gekies deur God

Laai af in pdf: Dawid 1

Teks: 1 Samuel 16:1-13

God stuur vir Samuel na Bethlehem om die nuwe koning van Israel te salf en ‘n offer aan God te bring. Sewe van Isai se seuns ontmoet vir Samuel maar nie een van hulle word deur God gekies nie. Samuel laat kom toe die jongste seun, Dawid, wat skape oppas. Hy word gesalf.

Bespreking

Vers 7: Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

  • Is dit makliker om na die uiterlike of innerlike van ‘n persoon te kyk?
  • Hoekom is dit belangriker om na die innerlike te kyk?
  • Wat is belangrike eienskappe om te voor te kyk in jouself en ander mense?

 

Teks: 1 Samuel 16:14-23

God stuur ‘n bose gees om vir Saul te onstel. Saul se manskappe stel voor hy kry iemand wat die lier (harp) goed kan speel sodat dit Saul sal rustig maak. Hulle kry vir Dawid wat die lier kan speel vir Saul. Saul hou baie van Dawid en maak hom een van sy wapen draers.

Aktiwiteit – Karton Harp

 

Benodighede:

1 vel stewige karton (ontbytgraan karton boks)

3 rubber rekkies of vislyn

1 potlood / hout stokkie

 

  1. Sny karton uit in ‘n ovaal vorm
  2. Sny ‘n sirkel in die middel van die ovaal
  3. Sny 3 kepe aan die bokant van die karton, bo die gat
  4. Sny 3 kepe aan die onderkant van die karton, regoor die boonste kepe
  5. Haak ‘n rekkie oor elke keep-stel. As jy vislyn gebruik maak die vislyn vas aan die bo en onder kant van elke keep-stel.
  6. Sit die potlood/stokkie onder die rekkies/vislyn, bo die gat, sodat die rekkies stywer kan trek.
  7. Versier die harp

Gebed

Laai af in pdf: Gebed

Teks: Fil 4:6

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

 

Onthou die 6 punte van gebed:

Begin met aanbidding/lofprysing

Bely jou sondes en vra vergifnis

Bedank God vir wat hy vir jou gee en doen

Bid vir ander

Bid vir jouself

Luister

(aangepas uit Seniors Kletsboek Siklus 3, God se plan met my)

Vrugte van die Gees

Laai af in pdf: Vrugte van die Gees

Teks Gal. 5:22-23

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

 

Klasbespreking:

 Watter Vrugte van die Gees sal jy in die volgende situasies gebruik?

  1. Dis na skool en jou ma/pa is laat om jou te kom haal? (Geduld)
  2. Een van die kinders by die skool het hulle toebroodjies vergeet en vra of hulle joune kan deel? (Goedhartigheid)
  3. Jy het die beste punte in die klas gekry, en ‘n paar mense wens jou geluk. Jy “brag” nie omdat jy die slimste is nie. (Nederigheid)
  4. Jy het op jou verjaarsdag R1000 gekry van almal af. Jy besluit om nie die geld te mors en als in een slag te spandeer nie. (Selfbeheersing)
  5. Een van jou maats vertel jou van ‘n verassing wat hulle beplan vir iemand en vra dat jy dit ‘n geheim moet hou. (Getrouheid)
  6. Jy word gegroet deur die buur tannie, maar al het jy ‘n slegte dag gehad by die skool groet jy haar terug. (Vriendelikheid)

 

Woordblok:

Vind the vrugte van die Gees: Liefde, Vrede, Vreugde, Geduld, Selfbeheersing, Goedhartigheid, Getrouheid, Nederigheid, Vriendelikheid